Ons het so ‘n rukkie terug afskeid geneem van ‘n vriend, Johan Muller, wie ek van skooljare af ken en wie se lewe skielik deur kanker beeindig is. Dit het so skielik gebeur en niemand het dit verwag nie. Ons was nog almal gesellig saam op verlede jaar se Philippolis Skool reunie in November en 5 maande later is hy nie meer met ons nie. Dit het my net weereens laat besef hoe belangrik dit is om jou prioriteite in die regte volgorde te hê. Nie een van ons weet wanneer ons tot verantwoording geroep sal word nie. Hierdie stukkie skryf ek ook nie tov van Johan nie maar in verband met ons prioriteite.
Ek het baie van die ou kennisse gesien en dan agter gekom dat ons nie dieselfde gees het nie. Hierdie is nie ‘n veroordeling nie maar net ‘n feit en om dit in perspektief te plaas, die volgende:
In 2004 jag ek by Rickus van der Merwe in Britstown en met die lewering van die faktuur aan sy ma Hester vra sy my uit die bloute aan watter kerk denominasie ek behoort. Ek bevestig aan die NG Kerk en sy sê sonder om doekies om te draai “maar dan is jy reguit oppad hel toe”. Ek was ‘n ouderling in die NG Kerk en moet bevestig dat ek gelewe het soos ek wil en nie volgens die Bybel nie, maar als was mos OK, ek is gedoop, aangeneem en glo mos so ek is oppad hemel toe al leef ek soos ‘n hooligan.
Sy het gepraat oor doop, uitverkiesing ens. Ek het daar en dan besluit om die waarheid te soek en ernstig Bybelstudie begin doen. Nie om ‘n punt te bewys nie maar die waarheid en ek dank God daarvoor.
Verder wil ek ook noem dat ek my lewe verskeie kere aan die Here gegee het en op verskeie plekke. Van dienste in die Charismatiese kerke (AGS, Pinkster Protestant), Christelike kampe en by myself. Ja ek het bybelstudie gedoen, kerk toe gegaan gebid en was godsdienstig. Ek het geglo in God, in Jesus Christus, dat Hy vir my sondes gesterf het en in die Heilige Gees, maar dit was alles ‘n natuurlike Christelike geloof, maw dit waarmee ek grootword het.
Ses maande in die ernstige bybelstudie ontmoet ek die Here vir die eerste keer. Ek kry ‘n nuwe gees, my lewe word vernuwe en ek word wedergebore. Die eerste teken vir my was die ophou vloek en die ophou van vuil grappe vertel. Ek kry ‘n gebroke hart, stort trane as ek ‘n mede broer se getuienis hoor van hoe hy gered is. My grootste skok kom egter met die besef hoe lank ek gedink ek is gered maar in werklikheid was ek verlore.
Ek vertel van almal wat ek ken van my redding en veral vir my vleeslike broers en susters in die NG Kerk maar dit vloei soos water van ‘n eend se rug. Ek voel soos Paulus oor die Jode, hoe kan ek hulle wakker skud? Tot vandag toe het ek nie die antwoord hoe om hulle wakker te skud nie maar ek probeer die klip wegrol sodat Laserus self die stem van die Here hoor.
Om wedergeboorte vir iemand te beskryf is soos om vir ‘n persoon te vertel wat dit is om werklik verlief te wees, maar die persoon het dit nog nooit ervaar nie. Jy vertel van die fisiese pyn in jou bors, jou hunkering om by die persoon te wees, jou denke aan die persoon dag en nag, jou verlange, jou drome en die persoon antwoord ja ek hoor jou maar jy kan sien hy/sy verstaan dit nie. Hy/sy het mos ‘n meisie/ou en hulle “like” mekaar baie. Vertel jy dit egter aan ‘n persoon wat dit ook al ervaar het is daar ‘n “ontmoeting” in julle gees en julle gesels land en sand daaroor.
My eerste vraag om die klip weg te rol is:
Glo jy dat die Doop die teken is van die nuwe verbond.
Antwoord: Daar is geen verwysing van die Doop as ‘n teken van die nuwe verbond in
die Ou Testament nie.
Die teken van die nuwe verbond word baie duidelik in Esegiel 36:25
verduidelik:
25Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein
kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.
26En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee.
27En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.
28En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ’n volk en Ek sal vir julle ’n God wees.[1]
Dan word dit ook bevstig in Jeremia 31:31
31Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit;
32nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here.
33Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.
34En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.[2]
Dus sal Jesus nie ‘n nuwe teken vir die Nuwe Verbond daarstel as dit nie in die Ou Testament vervat was nie. Hy bevestig die teken van die Nuwe Verbond aan Nikodemus in Johannes 3:3-11
3Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.
4Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?
5Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.
6Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
7Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.
8Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.
9Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur?
10Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?
11Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie.[3]
My tweede vraag om die klip weg te rol: Is jy wedergebore? Het jy ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees?
Ek vra nie of glo jy nie, ek vra nie of is jy gedoop nie, ek vra nie of jy Jesus Christus aangeneem het nie, ek vra ook nie of jy weet dat jy weet dat jy gered is nie.
Jy weet jy is gebore so jy sal ook weet van jou wedergeboorte.
Net God kan jou wederbaar en net God kan vir jou bevestig dat jy gered is maar wees versigtig vir jou hart. Jer17:9 – 9Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?[4]
My derde en laate vraag om die klip weg te rol: Jou lewenstyl
Vloek jy en vertel jy vuil grappe of geniet jy vuil grappe sonder dat dit jou pla. Geniet jy die partytjies en drank saam met die wereld. Indien wel kan ek jou verseker jy is nie gered of wedergebore nie.
Luister na Hebreers 3:8
7Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,
8verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie,
9waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het.
10Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie,
11sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie[5]
Indien jy dink dit is liefdeloos, wat kan ek meer doen en liefde betoon as om te wil dat my broers en susters saam met my voor Jesus se troon te aanbid en nie daar kom en hoor Lukas 13:27 – 27En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid![6]
Laaste opmerking:
Moenie iemand anders vra of jy gered is nie. Hy sal nie kan sê nie. Ja nie eers jou Dominee kan jou sê dat jy gered is nie.
Vrede vir julle in die naam van ons verlosser Jesus Christus, en mag jy wat nie gered is nie onvrede hê totdat Christus hom aan jou openbaar.
Liefde in Christus
Heinrich Funck
[1] Die Bybel: Ou Vertaling. (1996). (electronic edition of the 2nd edition., Eze 36:25–28). Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
[2] Die Bybel: Ou Vertaling. (1996). (electronic edition of the 2nd edition., Je 31:31–34). Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
[3] Die Bybel: Ou Vertaling. (1996). (electronic edition of the 2nd edition., Jn 3:3–11). Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
[4] Die Bybel: Ou Vertaling. (1996). (electronic edition of the 2nd edition., Je 17:9). Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
[5] Die Bybel: Ou Vertaling. (1996). (electronic edition of the 2nd edition., Heb 3:7–11). Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
[6] Die Bybel: Ou Vertaling. (1996). (electronic edition of the 2nd edition., Lk 13:27). Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Baie goeie skrywe, werklik iets om jouself teen te toets.
Opvallend hoe baie die Here die woorde “Ek sal” gebruik in Esegiel 36.
Waar woorde Dolf, min besef die implikasie van die Here doen dit en nie ons nie.
Baie dankie vir die duidelike beskrywing van ware redding en om te weet of jy weergebore / jou hart besny is.
Ek het die volgende “comment” op Jaracal forum gekry
“Ek is nou nie iemand wat die Bybel kan aanhaal en verse uit my kop uit ken nie, maar ek weet verseker jy is gered as jy Jesus as jou verlosser aanvaar.
Jy kan niks self doen om gered te word nie, jy moet Jesus as jou verlosser aanvaar.
Ons almal het sonde, of dit nou vloek of drank is, daar is baie sonde, laat die een wat niks sonde doen nie, eerste n klip gooi, o s oordeel tog te maklik, ek self doen dit en probeer om dit nie te doen.
Die Gees in my is nog altyd daar, dalk omdat ek gedoop was of omdat ek in die regte huis grootgeword het. Die Gees wys jou die weg dis net ons wat nie altyd ons self kan beheer nie, maar God dink nie meer aan ons sonde as ons Hom as verlosser aanvaar nie. Dink aan die tollenaar, die prostituut en nog meer, Jesus het hulle aanvaar soos hulle was en hulle is gered, hulle geloof het hulle gered, nie dit wat hulle gedoen het nie, juis wat hulle glo.
Deur Jesus as jou verlosser te aanvaar streef jy daarna om nie sonde te doen nie en die regte ding te doen, jou naaste lief te hê. As jy Jesus as jou verlosser aanvaar sal jy die regte ding wil doen en reg wil lewe al kry jy dit nie altyd reg nie.
Groete
Danie
Sent from my SM-G955F using Tapatalk”
Ek antwoord graag as volg:
Beste Danie,
Ek hoop nie jy lees veroordeling hierin nie en woorde geskrywe het ongelukkig geen emosie nie en die leser lees self die emosie in of trek dit homself aan.
Hierdie het ek geskryf met die grootste deernis en liefde vir my broers in die vlees. My hele doel is om, soos Hester my gekonfronteer het met feite, mense te konfronteer met feite.
Ek hoop elkeen gaan om ondersoek in te stel soos die “Bereans” Act 17:10 Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.
Act 17:11 En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.
Act 17:12 Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.
So ek hoop van harte jy ondersoek die Skrif vir jouself.
Dit is ongelukkig die grootste leun wat tans in Christendom vertel word dat as jy Jesus as jou verlosser aanvaar jy gered is.
Soos ek geskryf het, het ek Jesus verskeie kere aangeneem en as my verlosser aanvaar, maar ek was nog steeds daarna ongered tot die dag van my wedergeboorte.
Ek het ook eers tot daardie besef gekom na my wedergeboorte. Hoeveel dominees, pastore en mense se^ aan ander, gee jou hart aan Christus, aanvaar hom as jou verlosser en skryf daardie datum in jou Bybel.
Indien die Duiwel of Satan jou aankla wys hom net die inskrywing of herinner hom aan die datum. Min wetende dat dit die Heilige Gees is wat die persoon wil oortuig van sonde.
Ons moet van God gebore word, ons moet sy Gees ontvang, Hy moet ons hart besny anders is ons verlore. Soos die Ou Verbond se besnydenis ‘n teken is van die besnydenis van die vlees so is wedergeboorte die die besnydenis van die hart of dan vlees en die teken van die Nuwe Verbond.
Ja ons almal doen nog sonde maar ons leef nie meer daarin nie. ‘n Voorbeeld wat dit goed beskryf is dat ‘n ongeredde mens is soos ‘n vark wat daarvan hou om in modder rol en daarin te leef (maw in Sonde). Indien jou hart besny word neem God die begeerte weg om in die modder te rol en te leef. So nou en dan trap jy in die modder maar jy kan nie meer daarin gaan rol en leef nie, dit is vir jou walglik. Indien jy nog daarvan hou om daarin te rol en te leef moet jy jouself ondersoek of jy werklik gered is.
Ek oordeel ook niemand in hierdie geval nie, ek stel feite voor waaraan elkeen homself moet meet. Paulus se^ baie duidelik in 2Co 13:5 Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie—as julle ten minste nie verwerplik is nie!
Ek gooi ook nie met klippe nie. My vraag is, is jy gered? Is jy seker van jou finale bestemming of is jy waar ek was. Verblind deur godsdienstigheid, soos die fariseers, met ‘n goeie lewe. Onthou die fariseers in daardie tyd was soos ons dominees en pastore vandag – die skrifgeleerdes.
Selfs die Bybel skryf dat ‘n skrifgeleerde gered word: Mat 13:52 Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring. Dink net daaraan dat Paulus ook ‘n skrifgeleerde was en hoe wonderlik bring hy vir ons die waarheid te voorskyn met sy kennis na sy redding.
Ongelukkig kan die Gees van God eers in jou wees wanneer jy wedergebore is. Dit is juis Sy Gees wat ons besny en dit kom nie vanself of van kleintyd af nie. Ons word moreel goed grootgemaak veral wanneer ons in ‘n Christelike huis grootword en juis van kleins af kerk toe gaan. Jy is korrek dat geloof jou red. Die vraag is of het jy natuurlike geloof waarmee jy grootword wat jou niks sal baat nie of het jy reddende geloof.
Ek het ‘n gewoonte gehad om onbewustelik in elke sin te vloek. Die Here het dit gebreek en indien ek nou vloek doen ek dit bewustelik en ek weet ek gaan sondig nog voor ek dit gaan doen. Ek “override” dus my nuwe natuur en vloek doelbewus. Dieselfde met vuil grappe. Ek het ‘n duiwelse gawe gehad met die vertel van vuil grappe. Dit is gebreek/afgesny onmiddelik dus is dit nie dat ek probeer om nie vuil grappe te vertel nie dit het net gebeur, ek doen dit nie.
Ja ons het nog sonde want ons is mens en sal daarteen stry tot ons die dag sterwe. Dit is ongelukkig nie sonde wat ons laat verlore gaan nie, sonde is net die uitvloei van wat in ons hart is. Ongeloof is wat ons laat verlore gaan en ons weet ongelukkig nie of ons die regte geloof het nie totdat ons wedergebore is, dan weet ons ons het reddende geloof.
Vriendelike groete
Heinrich
[quote=”jaracal”]Hallo Danie
Ek het jou op die blog geantwoord.
http://www.jaracal.co.za/blog/2019/04/16/is-jy-werklik-gered-are-you-really-saved/#comment-5
Groete
Heinrich[/quote]
Oom Heinrich, meskien verstaan ek oom verkeerd?
1. Oom noem dat ons verkeerd glo dat om in Jesus as ons verslosser te glo ons gered word. Oom sê dis die grootste leuen van die Christendom?
Verder verstaan en ervaar ek die Gees in my soos oom dit verduidelik, naamlik om te weet wanneer jy sondig, te onderskei tussen reg en verkeerd.
Verduidelik dan waarom het Jesus vir ons sonde gesterwe? Romeine 3:21 – 31 staan soos ek verstaan ons gered word deur genade; “almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van Sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” “Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir die wat glo.” “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie” Ek haal hierdie spesifieke verse aan, want dit is wat ek so ruk terug gelees het voor oom se plasing.
God het ons eerste lief gehad, deur sy Seun vir ons te gee, ons aanvaar Jesus Christus as ons verslosser en word dan deur Sy genade vrygespreek van ons sonde. Deur die Gees in ons, weet ons wat sonde is en probeer ons nie in die “klei” trap nie, omdat ons God lief het en verheug ons in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.
AS jy die nuwe testament lees is die baie duidelik dat jy nie deur jou dade gered word nie, maar deur to glo dat Jesus Christus vir ons sonde gesterf het en uit God se genade.
As jy in die wet glo, moet jy deur die wet gered word. Ek aanvaar eerder die genade van God as om myself te probeer red deur die wet te onderhou. Hiermee bedoel ek nie ek kan doen wat ek wil nie.
Uit liefde vir God en dankbaarheid vir sy genade, onderhou ek steeds die wet, die wet is ook in ons harte deur die Heilge Gees.
Ek stem saam as oom sê dat jy nie gered is as jy in dronkenskap, ens lewe nie, want as jy jou hart vir die Here gegee het sal jy met als in jou probeer om nie so te lewe nie, al trap jy soms in die “klei” streef jy na wat reg en goed is.
Ek sou eerder wil hê oom moet sê dat ons, ons moet bekeer, ons hart vir die Here gee en Hom ons deur Sy Gees laat lei en dat ons glo ons is gered uit God se genade, deur in Jesus Christus te glo as ons verlosser en dat ons is nie gered word deur ons dade nie, maar slegs God se genade.
Christenskap is juis om te glo dat jy gered word uit God se genade, deur Jesus wat vir ons sonde gekruisig is en opgestaan het.
Ons moet onsself net die vraag vra, is jy gered, aanvaar jy waarlik Jesus as jou verlosser, het jy God regtig lief deur jou optrede en jou keuses? Soos oom self sê, net jyself kan daardie vraag beantwoord. Doen jy soos jy wil of soos God wil?
Ek het dalk nou baie deurmekaar geskryf, maar probeer net beklemtoon dat jy gered word uit God se genade en nie deur jou dade nie. As jy slegte dade het moet jy jouself die vraag vra of jy waarlik God lief het en waarlik Jesus as jou verlosser aanvaar.
Groete
Hallo Danie
Ja, jy verstaan my werklik verkeerd. My opmerking van die grootste leun in Christendom word gekwilifiseer met die gedeelte net onder die opmerking. Ek verduidelik dit weer –
Indien ‘n persoon net se^ hy neem Christus aan as sy verlosser is dit nie te se^hy is gered nie, (alhoewel dit nie uitgesluit is nie en ek van baie broers weet wat wel so tot bekering en wedergeboorte gekom het). Daar is verskeie gelykenisse wat dit bevestig. Saad wat tussen die dorings val ens. Ek het op verskeie geleenthede my hart vir die Here gegee en hom aangeneem sonder dat ek op daardie tydstip gered is.
Verder se^ die Bybel ons moet wedergebore word en dit kan ons nie self doen nie dit is wat God doen en dit is net uit genade en kom van God af. Daarby kan ons ook nie verby kom nie. Christus het dit vir Nicodemus gese^.
Soos jy se^ jy moet jou bekeer en in Christus glo dat hy jou redder is om gered te wees.
My vraag is hoe weet jy, jy het ware geloof of reddende geloof. Net God kan dit aan jou bevestig. Daardie bevestiging het vir my gekom met wedergeboorte. Nadat ek ‘n nuwe gees en hart ontvang het het ek geweet ek is gered want God het dit bevestig. Ek het niks gedoen om dit te verdien nie.
Ek se^ ook nerens dat jou werke jou red nie. Indien jy gered is sal jou werke en optrede dit weerspieel maar goeie werke of morele lewe alleen is nie ‘n aanduiding dat jy gered is nie. Hier kan ons na die Fariseers kyk.
Die Evangelie is baie duidelik, bekeer jou, glo in Christus dat Hy vir jou sondes betaal het om jou met God te versoen en laat jou doop en jy sal gered word.
Die werklike toets kom of dit “kop” geloof is of “Harts” geloof. Kop geloof glo jy dit alles want dit is hoe jy groot geword het en dit so geleer het in die kerk en by die huis en jy oortuig jouself jy is gered. Jy kan ‘n wonderlike morele lewe lei maar ve^r van God af. Godsdienstig net soos die Fariseers en Skrifgeleerdes of jy kan ‘n hartsgeloof he^ waar jou hart besny is en jy deur ‘n wedergeboorte gegaan het van God se kant (niks van jou kant af nie) en jy die wonderlike ervaring het van openbaring tot openbaring in die Woord van God.
So, ons moet by God pleit om aan ons te bevestig dat ons werklik gered is en indien nie Hy ons nie moet los voordat Hy ons die wedergeboorte geskenk het nie. Hier kan jy niemand anders as God vra nie, nie eers jou Dominee of Pastoor kan dit bevestig nie, net God alleen.
Mag God aan ons vrede gee as ons wederbaar is en onvrede indien ons nog nie die wedergeboorte gesmaak het nie.
Liefde in Christus
Heinrich
Dankie oom Heinrich, dan is ons op dieselfde bladsy, ek het verstaan uit oom se skrywe dat jy gered word deur jou dade en dis waar ek wou verskil, maar oom het nou bevestig dis nie wat oom bedoel het nie.
Vriendelike groete
Danie